Dinsdag 25 September 2012

Boks, skoenbokse en dose.......

Hallo almal

Ek weet ek was 'n bietjie stil gewees die afgelope tyd, maar dit is maar besig hier by my!! 
Ek was in die koerant!!!!!!
Ek kan nie glo dat die mense soveel skoenbokse gee vir my Klein Karoo Kersfees Boks Projek nie. Dit is so wonderlik om te weet dat daar baie kindertjies se hartjies bly gaan wees hierdie Kersfees! Dit laat my hart sommer tjoklits klop ;-)

Ek het gister saam met my boetie en twee sussies winkels toe gegaan om die laaste goedjies te koop vir Jessica Muller. Sy is ook 12jaar oud. Net so oud soos ekke. Sy is in Dankoord Primer buite Ladismith. Ek kan nie wag om haar te ontmoed nie.

Wingerd kleuterskool besig om hul bokse te versier.


Ek kan nie wag om die mense van Kwela te ontmoed nie. Dit gaan vet pret wees om die skoenbokse by die Besige Bytjies uit te deel op die 8ste Oktober. 

Die projek het ook 'n bladsy op Facebook. Gaan kyk hoe die projek vorder.
http://www.facebook.com/pages/Klein-Karoo-Kersfees-Boks-Projek/173374489464652
 
Ek saam met van die bokse wat by die Besige Bytjies uitgedeel gaan word.

Hoop julle het 'n wonderlike week!

Baie liefde
Carli

Maandag 20 Augustus 2012

Kos, kos, kkkkkooooooosssssss!!!!






My gunsteling kos is carpaccio, sushi, steak, tjops, spareribs,rys met melk.......Die groot ding is, ek is lief vir kos! 
My Graad 4 Juffrou het altyd gese sy is gemaak om te eet! Elke keer as sy McDonalds toe gaan tel sy die tjips......sy is 'n snaakse Juffrou!

Ek hou van slaai maar voorheen het ek komkommer en avokado gehaat, maar nou is dit een van my gunstelinge.
Nagereg: Jellie en vla, melktert, marie's en melk, cupcakes en sjokoladekoek. So dit is altyd die lekkerste na ete!

Onthou kos is altyd lekker en dit is die moeitewerd om altyd iets nuuts te probeer. Dalk word dit nog jou gunsteling kos.

Geniet julle week!

Liefde 
Carli

Maandag 16 Julie 2012

Vakansietyd is lekkertyd!


My kunswerk wat ek by Korlie de Kock gemaak het.

Min het ek geweet toe die skole gesluit het op 22 Junie dat ek so 'n lekker tyd gaan he. 26 Junie het ek saam met my Ouma gevlieg tot op Lanseria lughawe. My Ouma was baie bang dat sy gaan verdwaal op die lughawe, maar gelukkig was dit nie 'n probleem nie want die lughawe was nie baie groot nie. Ek het myself besig gehou met Sudoku en my Sweet Home boek. Ek was vreeslik opgewonde om Nelspruit toe te gaan, omdat dit die eerste keer is vandat ons Kaap toe getrek het. 

Ek en Ouma in die 'Taxi'
Ons het met 'n taxi Nelspruit toe gery. Dit is nou nie die soort taxi wat mense gewoonlik mee ry nie. Hierdie was 'n fancy bussie. Ons het die aand eers half 8 in Nelspruit aangekom. Dit was al donker en ek kon glad nie sien hoe Nelspruit nou lyk nie. Ek was bly om vir Oupa te sien wat ons kom haal het. 
'n Sanger by Innibos.
Woensdag het ek en Ouma by Tannie Breggie, Oupa se oudste suster, gekuier. Haar pappegaai is baie snaaks. Dit was lekker om by haar te kuier. Die aand het ons Innibos toe gegaan. My Oupa het my pienk sakkie gedra en 'n ander oom het gese dat Oupa snaaks lyk met die pienk sakkie. Ek het lekker gelag! Die musiek was pragtig maar bietjie hard. Ek hou mos nie van harde musiek nie oor my ore wat maar bietjie anderste werk. Dit was ook koud. Ons het toe maar vroer huis toe gegaan.

Ek en Oupa Danie. Dit was heerlik om foto's te neem.








Donderdag het ons Kruger Wildtuin toe gegaan. Die eerste aand het ons in Olifantskamp geslaap. Dit was heerlik rustig. Ons het pragtige tonele gesien van veral olifante. Ons het ook die Olifant Museum besoek. Van die Tuskers se tande is langer as ekke!!!!! Ons het ook ‘n apie-hijack beleef ;-) Die apies het al ons kos gesteel......hulle het die knippe losgemaak en alles opgeeet!
Die tweede aand het ons in Letaba geslaap en die laaste aand in Pretoriuskop. 
Oupa Martin, Ouma Marieta, ekke en Albert
Die Sondag aand het ons by Ouma Marieta en Oupa Martin in Nelspruit gekuier. Ek het ook my nefie Albert gesien. Hulle was so verras om my te sien, want hulle het nie geweet ek is in Nelspruit nie.
Die Maandag was dit weer terug Kaap toe. Ek het baie na my gesin verlang. Dit was heerlik om weg te wees, maar dit was die lekkerste toe my hele gesin my kom groet het by die lughawe. Die beste plek in die wereld is by die HUIS!
Die tweede week van die vakansie het ek en my sussie kunsklasse geby  by die Sasol Kunsmuseum. Corlie de Kock  het dit aangebied. Sy is baie nice!  Dit was vreeslik lekker. Ek het veral die kleiwerk die meeste geniet.
Die laaste week het ek lekker laat geslaap en ook Ice age 3 gaan kyk. 

Ek en Mamma. Dit is die laaste dag van die vakansie by Ocean Basket.
Nou-ja, vandag het die skool weer begin. Ek sien uit na die kwartaal want ek gaan begin met klavierlesse.
Geniet julle week!

Baie liefde
Carli

Donderdag 14 Junie 2012

X-sAMENs..............

Ek het gister my laaste vak geskryf, Tegnologie! Ek was verskriklik op my senuwees omdat ek nie al die werk gehad het nie. My keel het begin pyn van die stress! Die hoofpyn wat ek gehad het, het alles nog erger laat voel.

Ek is so bly dat die eksamen verby is. Dit het gelukkig goed gegaan met die Tegnologie! Al wat ek nou oor het na die eksamen is 'n verkoue!
Ek is besig om te leer. Dit was bibberkoud!

My boetie, Franco het 'n nuwe fiets gekry! Nou gaan hy vrek vinnig kan ry! Hy wil mos SA Mountainbike ryer word. Met so 'n mooi fiets dink ek sal hy dit kan regkry. Hy was baie bekommerd dat hy nou 'n "spoiled brat" gaan wees, maar ek dink nie hy is een nie. Hy is net baie lucky! Ek hoop ek word volgende bederf. Ek wil so graag 'n perd he, maar ek weet dit is 'n groot verantwoordelikheid.

'n Arm dogtertjie in die Klein Karoo
Nog iets waaroor ek vreeslik opgewonde is, is 'n projek waarmee ek arm kindertjies gaan help. Ek het laasjaar dit die eerste keer gedoen, maar ons het te laat begin. Hierdie jaar gaan ons dit saam met Helderberg gemeente se kinders doen. Die projek se naam is die Klein Karoo Kinder Kersfees Inisiatief of sommer net K4I. Wat elkeen moet doen is om 'n skoenboks te versier en dan elke week ietsie te koop wat daarin gaan. Hier teen Oktober/November behoort jou boksie vol te wees en dan kan die boksie baie vreugde vir 'n arm kindjie bring. Bid asb. dat hierdie jaar se projek 'n reuse sukses sal wees! Ek sal so bly wees :-))))))

Geniet die res van julle week!

Liefde
Carli

Maandag 14 Mei 2012

Moederskind: 'n gedig vir Carli

Gister was die eerste keer wat Moedersdag weer op 13 Mei was sedert sy 11 jaar terug seergekry het. Dit was so 'n ietwat bittersoet ervaring! Ongelooflik of is dit nou gelooflik! dankbaar vir my pragtige dogter wat God terug gegee het maar aan die ander kant sou ek nooit graag my kind wou laat seerkry het nie!!! .....en ja daar gaan momente verby wat ek wens dat dit nooit gebeur het nie. Ek is ontsaglik lief vir Carli en al my kinders. Dit is voorwaar 'n voorreg om 'n mamma te wees en wat dit meer spesiaal maak is die feit dat God my vertrou om hierdie kinders van Hom groot te maak!.....en vir my 'n 2de kans gegee het met Carli. Ek weet in my diepste binneste dat God haar vir Hom wou geneem het op 13 Mei 2001! Tot vandag toe is ek God ewig dankbaar dat Hy haar nie geneem het nie.

Hier is 'n gedig wat ek vir Carli geskryf het. 

Moederskind
13 Mei 2001

GROOT asseblief
mamma se lief
God geeeeeee terug!
hart se pyn, verlig.

Moedersdag my lief
amper gesteel: doodskloudief
God sê WEER
'n nuwe lewe tot sy eer.

Dankie vir elke brief
wys jy het my lief
God in beheer
hou vas aan Hom, Hy weet meer

Groete
Marinda
 

My en mamma se dag!.... die 13de Mei!

Moedersdag, 13 Mei 2012! Ek noem dit sommer Mamma-dag! Ek het bietjie vergeet dat dit Mamma se dag is, maar gelukkig het Pappa later onthou. 
(Hy het ook bietjie vergeet.) 


Ek en my mamma het saam gaan fliek want ons twee het fliekkaartjies gewen by Eikestad Mall. Ek het vir hulle geskryf dat my mamma gehelp het om my lewe te red op 13 Mei 2001,Moedersdag. Dat sy my rolmodel is en dat sy die beste mamma in die hele wereld is. 

Ons by die fliek!
Ons het The Marigold Hotel gaan kyk en dit was baie interessant. Ek het baie geleer van mense en hoe belangrik dit is om gelukkig te wees maak nie saak waar jy is nie.


Dit was heerlik om saam met my Mamma Moedersdag te hou!

Geniet julle week!

Baie liefde
Carli

Dinsdag 08 Mei 2012

MY LIEWE SUSSIE

Toe ek klein was het ek elke dag gebid vir 'n nuwe sussie. Ek was verskriklik bly toe ek hoor dat my ma 'n baba verwag en dat dit 'n sussie gaan wees. 


Liezel, of soos ons haar noem Lielie, is op 8 Mei 2007 gebore. Sy was die cuteste babatjie met bruin ogies en donker haartjies.
Ek, Bella, Liezel en Franco op Lielie se 2de verjaarsdag!
Dit is heerlik om haar te bederf. Ek moet nog vir haar 'n verjaarsdag geskenk koop.... ek en my ma sal ietsie moois vir haar gaan soek by Mr. Price Home.
Ek en Lielie op haar 3de verjaarsdag!
Ek is baie lief vir my sussie selfs al sy somtyds cheeky met my.
Lielie, Ek en Franco met Lielie se nuwe puppy, Neelsie op haar 4de verjaarsdag!
Ons 2 op haar 5de verjaarsdag! 8 Mei 2012

Hoop julle het 'n lekker week. Onthou om vir julle spesiale mammas iets ouliks te maak of te koop, want Sondag 13 Mei is Moedersdag!

Baie liefde
Carli  

Dinsdag 01 Mei 2012

Fossiele, Eekorings en Duiwe

Vrydag het ek, my sussies en my ma na Kaapstad gegaan. Ons het die Museum besoek saam met Tannie Cobie, Hano, Dirk, Tannie Susan, Alicia en Mika. Dit was vreeslik interessant. Daar was Boesmantekeninge, Dinosourus fossiele, opgestopte diere, baie mooi minerale en foto's van insekte. Ons het 'n foto geneem binne die bek van een van die grootste haaie in die wereld!!!! Sjoe maar dit is verskriklik groot! 
Haai se bek!
Na die uitstappie by die museum het ons in Kaapstad Tuine agter die duiwe aangehardloop. Hano se wange was later bloedrooi van die hardloop! Hy was ook die eerste een wat 'n duif gevang het sodat hy dit kon bestudeer. My ma het vir ons elkeen 'n pakkie grondbone gekoop. Dit was binne sekondes toe was ons toegesak onder die duiwe! Lisabella het dit te erg gevind veral toe hulle bo-op haar kom sit het. Sy het beangs geskree! en rond getrippel. Die vier meisiekinders het toe besluit dat die bankie die veiligste plek vir hulle is. Van uit die hoogte het hulle die duiwe en eekorings geniet.



Vir my was dit die lekkerste toe die eekorings op my bene kom sit het....ghie-ghie....hulle is so sag soos wol! Hulle het uit my hand geeet. Die duiwe het orals op my gesit terwyl ek hulle gevoer het. Ek was so gelukkig. Ek sou graag 'n duif wou huis toe vat, maar ek weet dat ek nie kan nie.

Sjoe, dit was 'n heerlike dag.


Geniet julle week!


Baie liefde
Carli 


Maandag 23 April 2012

FRONSVELLE

Die manier hoe ek fronsvelle ontdek het is deur 'n onderwyser by my skool wat sulke velle het as hy kwaad word, stres of bekommerd is. Ek wonder soms hoekom hy sulke velle het. Dit is seker oor vergaderings of dalk 'n lang dag wat voorle en definitief stoute kinders.

Kyk hier: regte egte fronsvelle!!! (die foto is nie my Mnr. nie. My Mnr. is baie aantreklik)

Ek bederf hom deur vriendelik te wees, die klas se boeke te dra, vir hom sjokolade te gee of om sy nek te maseer.
My fronvelle begin ;-)

Ek begin ook nou al fronsvelle kry. Die rede daarvoor is omdat ek my bril haat! en nie hou van leer nie en wanneer my sussies in my kamer grou!

Dankie vir almal wat laasweek se blog gelees het en vir al die lekker kommentare.
Geniet julle week.........tot volgende week!

Baie liefde
Carli

Maandag 16 April 2012

16 April Carli se doop 'verjaarsdag'

Baie geluk met jou 12de doop 'verjaarsdag' my liefie. Ons is nog elke dag bly dat jy ons harte met jou wonderlike warmte en liefde vul. Ons is verskriklik lief vir jou en Jesus die heel meeste want Hy het jou vir ons terug gegee!

1 Johannes 4:13
 Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons:
Hy het ons sy Gees gegee.

Sondag 15 April 2012

My gunsteling goeters

Meeste mense weet nie waarvan ek hou nie toe het ek gedink dit is 'n goeie idee as ek vir julle vertel van al my gunteling goeters in hierdie wereld. So hier kom dit nou:

  • Ek hou daarvan om met mense te gesels en nuwe mense te ontmoed.
Ek en liewe Tannie Marix van Potchefstroom

  • Ek hou baie van die natuur en is mal oor die see.
  • Blom: Dit is bietjie 'tricky' want ek hou van alle blomme
  • Kleur: ligte blou
  • Sport: Ek is mal oor swem, spiesgooi en perdry
  • Persoon: Natalie du Toit
Natalie du Toit

  • Provinsie: Wes-Kaap
  • Geur: Vanilla
  • Dier: Dolfyn
  • Kos: Sushi en Pizza
  • Drinkgoed: My ma se lekker rooibostee, mmmm sy maak dit net reg!
  • Nagereg: Jellie en vla

  • Fliek: Journey 2: The mysterious island
  • Gunteling plek: Die Klein Karoo (interessant) en Kaapstad (baie goed om te doen)
Ek, Franco en my sussies hardloop lekker op die stofpaaie van die Klein Karoo.
  • Ek hou BAIE daarvan om saam met my ma te bad, veral as daar lekker skuim in die bad is en klomp kersies brand. Ons maak dan grappies en lag lekker.
  • Boek: Geraamte in die klas ('n Skreeu snaakse storie :-)))

  • Ek voel baie trots op die koekies wat ek saam met my sussies gebak het.
  • Onderwyser: Mnr.Cornel( my Gr.5 Onderwyser van laarjaar) en Mnr.Hawkie (die beste hoof in Suid-Afrika!)
  • Onderwyseres: Juf. Marie van der Merwe ( Sy help my so mooi met al my werk.Ek is baie lief vir haar.)
Ek wil graag eendag my eie skooltjie he op 'n plaas waar ek die kindertjies kan leer. In die middae wil ek die kinders leer perdry. Ek wil graag eendag in die Karoo bly en nie in die stad nie.

Hoop almal geniet my blog. Lekker week.

Baie liefde
Carli

Dinsdag 10 April 2012

Paasfees eier kaskenades

Jesus is gekruisig en drie dae later het Hy uit die dood opestaan!
Kyk my krale-kruis wat ek gemaak het.
Ek en my sussies was besig om in my kamer te speel toe my ma ons roep om paaseiers te kom soek. Ons het dit binne die huis begin soek. Bella het die eerste eier gekry by die bruin beertjie.


Liezel was tweede met 'n eier onder die tafel. Sy was so bly om dit te vind.
Ek het 'n stukkende bal op die grond gesien. My Oupa het vir my gevra wat is dit? EK se toe vir hom dit is 'n stukkende bal en toe skop ek dit maar daar was 'n Paaseier onder dit weggesteek.....wat ek toe stukkend geskop het! Dit was so snaaks! Ons het almal vreeslik lekker gelag......

Franco het al die eiers wat oorgebly het gekry en gemaak asof hy die haan is wat 'n goue eier gele het :-)))
Ek, Liezel, Franco en Lisabella met ons Paaseiers.
Paasfees was baie lekker!!!!!!!
Ons kinders se Paasfees skets.

Donderdag 05 April 2012

Echoes of Laughter: Sweet & Silly Marshmallow Kabobs for Easter...

Echoes of Laughter: Sweet & Silly Marshmallow Kabobs for Easter...: We are preparing to celebrate Easter a week early at our house since my boys will be away in British Columbia for a hockey tournament on Ea...

Paasfees!

Hierdie is Carli se eerste blog inskrywing!!!!!

Vandag het ons, ek en my sussies, kruisies gemaak van kraletjies en pypskoonmakers. My kruisie het wit en pienk krale gehad. Paasfees beteken dat Jesus vir ons sondes gekruisig is. Dit laat my goed voel! Dit is lekker om saam met my gesin Paasfees te hou.

In 2011 was ons in die Klein Karoo tydens Paasfees. My Ma (alias paashaas) het die eiertjies weggesteek tussen die klippe en aan die doringtakke opgehang. Dit was baie spesiaal.

Die lekkerste van die Karoo was om jou eie speletjies uit te dink. Ons het modderhuisies gebou, ons het rondgehardloop, ons het maats gehad, ons het 'home-schooling' gedoen wat baie lekker was en ons het ontdek hoe lekker dit is om met albasters in die stof te speel! 

Ek hoop ek gaan baie mense kry wat my blog lees.

Dankie vir al die lesers. Lief vir julle! CARLI