Maandag 20 September 2010

HOEKOM 'n PIENK ROOS?

Toe ek vir Carli vra wat haar gunsteling blom is, antwoord sy vinnig sonder twyfel: ''n Pienk roos, Mamma!' Vandaar die naam vir die blog carlipinkrose!

Carli saam met 'n vriend, Dawid!
Na haar ongeluk in 2001 het mense my gereeld gevra om te skryf oor Carli se vordering. Om haar brawe en hardwerkende 'soul' te kon sien was soos om jou eie hart se wonde op papier te sit. Mense sal soms staar, veral nadat sy seer gekry het en soms was my hart seer om te sien hoe mense hulle kinders druk om te presteer en nie te waardeer wat hulle het nie. Die kind net soos hy/sy is sonder die en, en, en  as voorvereistes om jou die perfekte kind te maak!  Ek het al baie keer gewonder wat as dit wat met Carli gebeur het met hulle kind sou gebeur het?!! Wat dan? Sal jou insig rondom die lewe nogsteeds dieselfde gewees het.

Sonder dat Carli dit weet het ek haar altyd vergelyk met 'n roos, maar nie 'n gewone roos nie, Nee, nee! 'n God's Roos! Amper van ons af weggeneem, maar vandag blom sy met 'n nuwe doel in die lewe! Sy is soos 'n wonderlike soet roos-geur wat aansteeklik is.

Sy maak 'n verskil orals waar sy gaan. Dit is gewoonlik op gewone en eenvoudige plekke, 'die nie-so-belangrike-plekke'! Byvoorbeeld die karwagte in die parkeerterrein of die kassiere by die winkel of die skoolhoof wat 'n opregte drukkie kry in skool se gange. Sy sal altyd met almal, oud en jonk, gesels en moeite doen om hulle spesiaal te laat voel. Sy sien die lewe in 'n nuwe pespektief.  Vandag is sy die een wat almal, familie, vriende, onderwysers en vreemdelinge op hulle tone hou met haar vriendelike, eerlike en 'sweet' perspektief op die lewe!

Sondag 19 September 2010

Carli se ongeluk

Hier is 'n kort opsomming van wat met Carli gebeur het. Sy is nou 10 jaar oud. Sy het my gehelp met die ontwerp van die blog. Sy is so opgewonde om vir almal daar buite meer van haarself te vertel!

                                                          'n Maand voor haar ongeluk
Op 13 Mei 2001, Moedersdag, het haar Pa per ongeluk oor haar koppie gery met sy Toyota 4x4 bakkie. Sy het 'n ernstige breinbesering opgedoen en was bewusteloos onmiddelik na die ongeluk. Sy het geveg vir haar lewe. Dit was 'n Ma se ergste nagmerrie wat waar geword het.... die ergste was dat ek 36 en half weke swanger was met haar boetie, Franco. Hy is dus op 'n snaakse manier 'n groot deel van hierdie trauma in ons lewens.


                                                               10 dae na haar ongeluk
Die enigste manier om te kon aangaan was om by ons Groot Vader se voete te gaan sit en huil en Hom te smeek om haar terug te gee! Ek was nog nie reg om haar te verloor nie! Ek het haar in my gedagtes vasgevang soos sy was voor die ongeluk.......'n borrelde, klein dogtertjie wat orals rondhardloop en met groot bruin laggende ogies. Die gesig van wat gebeur het het nogal 'n manier  gehad om jou gedagtes te wil oorrompel, maar ek het daarteen geveg en eerder geglo dat Hy sy beskermde hand van liefde om ons en veral Carli'tjie gehou het!